Liefste Mamma,
Ek hoop deur my borsvoedingsverhaal met julle te deel dat ek êrens ‘n mamma sal help moed skep.
Mamma-wees is moeilik. Dis die mooiste mooi, maar dit bly moeilik. En mamma-wees vir die eerste
keer en borsvoed vir die eerste keer het my dieper geraak as wat ek ooit kon voorstel.
Ek het voor ons dogtertjie se geboorte ‘n baie kosbare boek gelees oor borsvoeding – as ek reg
onthou was dit Ina May se "Guide to Breastfeeding". Ek was reg vir hierdie nuwe uitdaging wat vir
ons voorlê! Ek het ook die dag voordat ek hospitaal toe is, gesels met ‘n La Leche League Leidster
wat my bietjie touwys gemaak het oor die eerste paar oomblikke en dae van mamma-wees en
borsvoeding.
Ons dogtertjie is met ‘n keiser gebore en alles het perfek verloop. Sy is met geboorte gediagnoseer met ‘n lip tie maar ons het vertrou dat ons sal kan borsvoed met dit. Op dag drie het my melk ingekom – wat ‘n ontnugtering! Als was seer en warm (borsvoed-mammas sal presies weet waarvan ek nou praat!) Ek het ten minste vier keer ‘n dag gestort om net so bietjie melk te kan uitmelk, aangesien ek geweet het om uit te pomp op daardie stadium was totaal buite die kwessie. Met die vol borste het sussie gesukkel om te latch en dinge het vir my moeilik geraak. Ek het baie trane gestort omdat ons
so gesukkel het. My melk was te veel. Sy kon nie latch nie, met let down het sy gestik. Ek het ‘n
verpleegsuster gevra vir hulp en haar enigste raad was: “Ek weet nie hoekom jy so sukkel nie, gee
haar net formule in ‘n bottel.” Ek is so bly ek het nie geluister nie!
Van hier af kan ek nie meer die presiese tydlyn onthou nie – maar dit is meer die gebeure wat
saak maak as die tydlyn self!
Op drie maande het ek steeds gesukkel met seer en stukkende nipples. Geen nipple salf wou help
nie! Ek het elke video op die internet gekyk oor latching techniques en besluit toe om ‘n
borsvoedingskonsultant te gaan sien. Sy het ons dogtertjie met ‘n tongue & lip tie diagnoseer en het
bevestig dat my melk net heeltemal te veel is en gevolglik ‘n reeks probleme veroorsaak. Sy het my
egter gehelp met nuwe posisies wat ons journey makliker gemaak het. Ek het geleer om te lê en
voed (dankie Here vir dit!). Dinge het stadig maar seker beter begin gaan, (sonder dat ons aan die
ties laat sny of iets laat doen het.)
In die maande daarna het ek eers ligte melkkoors gekry, ek het later mastitis gekry en het meer as
een reeks antibiotika deurgewerk. Ek het op die ou einde ‘n tipe van abses in die een bors gekry en
het deur al bogenoemde aangehou om sussie op een bors te borsvoed en die ander een met die
hand uit te melk. Ons het hierdie hele reeks gebeure afgesluit met sproei – ek en sussie. Ons het
salfies gebruik, ek het silwer nipple caps* aangeskaf, ek het breast gymnastics gedoen en selfs
koolblare in my bra gedra. Ek het letterlik ALS probeer net sodat ons kon aanhou. Ek was ook deur
dit als in kontak met die La Leche League Leidster sowel as ons plaaslike borsvoedingskonsultant –
hulle het saam gelag, saam gehuil en net aanhou cheer vir ons.
Op een jaar het sussie haarself begin speen deur die dag en dit was vir hierdie mamma-hart bitter swaar! ‘n Week later het ek uitgevind die rede daarvoor is dat ons ‘n nuwe lyfie verwag en sy vermoedelik iets deur my melk agtergekom het. Ons het STEEDS aangehou met borsvoed deur die nagte tot op 14 maande.
Toe sy drie maande oud was wou ek reeds ophou. Ek het gedink vir sussie se part hou ek aan tot op ses
maande. Op ses maande het dit so spesiaal geraak dat ek nie eers meer ophou oorweeg het nie. Ons
het die 14 maande mylpaal gehaal.
My hele verhaal klink ongelooflik dramaties – maar dit was steeds een van die wonderlikste dinge
wat ek in my 30 jaar gedoen het. En ek sal elke mamma aanmoedig om vooraf jou navorsing goed
te doen. Weet wat borsvoeding vir jou en jou baba beteken (vir jul verhouding en gesondheid). En
asb., asb. moenie na enige iemand luister wat sê jy moet ophou of opgee nie. Jy’s amazing. Jy kan
dit doen! Ek glo ons is geskape om mamma te wees en ons lywe is perfek saamgestel om hierdie wonderwerk te doen van ‘n baba aan die lewe hou met moedersmelk. Glo in jouself! En as dit swaar gaan en julle sukkel – reik uit na ‘n ander mamma. Iemand wat sal verstaan en vir jou sal cheer! En weereens moet asb. nie na enige iemand se raad luister wat sê jy moet ophou nie. Dit is somtyds die makliker uitweg – maar nooit die beste een vir jou en jou baba nie xxx.
*LLLSA comment: Latching uitdagings kan oorkom word deur goeie borsvoedingshulp te kry, so gou
as moontlik. Seer tepels en latching wat pynvol is, is nie normaal nie, dit beteken die baba suig te
vlak of net aan die tepel. Skade aan die tepels genees vinnig, wanneer ‘n dieper, gemaklike latch
verkry word. Tot op hede (Aug, 2024) is daar nog nie voldoende navorsing oor silwer nipple caps
gedoen nie. Navorsing bevestig wel dat die gebruik van uitgemelkte borsmelk op tepels wat beskadig
is, die genesingsproses ondersteun, wanneer ‘n diep, gemaklike latch bereik is.
Comments