VEL-TEEN-VEL KONTAK
Vel-teen-vel kontak is ‘n manier van versorging vir jou baba. Baba dra slegs ‘n doek en word veilig vasgehou teen jou kaal borste. Moeders kan vel-teen-vel kontak doen wanneer hulle begin borsvoed, weer moet begin borsvoed of enige ander tyd wat jy en jou baba dit verkies.
OM JOU BABA IN VEL-TEEN-VEL KONTAK VAS TE HOU IS BELANGRIK WANT:
-
Dit laat jou baba veilig voel.
-
Dit help jou om jou baba te leer ken en versterk die band tussen julle.
-
Dit laat jou en jou baba ontspan.
-
Dit verhoog jou melkproduksie.
-
Dit help babas om gewig op te tel.
-
Dit help om babas se bloedsuiker normaal te hou.
-
Dit kan ‘n huilende baba kalmeer.
-
Dit help om baba se hartklop en asemhaling te reguleer.
-
Dit help om jou baba se temperatuur stabiel te hou, en indien jy ‘n tweeling het - deur een baba aan elke bors te hou - sal elke bors afsonderlik warm word presies soos elke baba dit benodig.
-
Indien jou baba vroeggebore is, of baie klein is, kan vel-teen-vel kontak jou baba se lewe red.
-
Vel-teen-vel kontak help om babas te stabiliseer.
Vaders kan ook vel-teen-vel kontak doen!
MAAK GEREED VIR VEL-TEEN-VEL KONTAK
-
Trek jou hemp en bra uit. Trek al baba se klere uit - jy kan die doek aan los.
-
Indien die kamer koel is, kan jy ‘n kombers gebruik om julle albei toe te maak.
-
Plaas baba tussen jou borste – baba se borskas moet teenaan jou borskas lê. Baba se beentjies en armpies is gebuig, soos ‘n paddatjie.
-
Maak seker baba kan asemhaal – baba se wang op jou vel. Baba se koppie moet naby genoeg wees om te soen.
-
Sit terug in ‘n stoel of op jou bed. Geen ekstra kussings of beddegoed moet naby die baba wees nie.
VEL-TEEN-VEL KONTAK VIR ELKE OUER EN BABA
Is dit veilig? Ja, as jy en baba in die korrekte posisie is en daar geen ekstra beddegoed of kussings is nie.
Kan ek vel-teen-vel doen met ‘n tweeling? Ja, met een baba oor elke bors, kan jy steeds vel-teen-vel doen.
Wat as ek nie lekker voel nie? Laat iemand weet as jy nie goed genoeg voel om jou baba vas te hou nie.
Wat as my baba vroeggebore is? Jy kan vel-teen-vel doen om jou baba te help stabiliseer.
Wanneer behoort ek met vel-teen-vel te begin? Jy kan begin sodra jou baba gebore is.
Kan ek steeds vel-teen-vel doen as baba ouer is? Ja, vel-teen-vel is belangrik, selfs vir ouer babas.
Kan vel-teen-vel help om meer melk te produseer? Ja, vel-teen-vel kan help om jou baba te laat vassuig, en beter te drink. Indien baba drink tydens vel-teen-vel, sal jou borste meer melk produseer.