DRUK JOU MELK MET DIE HAND UIT
Om jou melk met die hand uit te druk is iets wat elke borsvoedende moeder kan aanleer. Baie moeders besit nie ‘n borspomp nie. Hulle druk melk met die hand uit om melk te los vir hulle babas. Jou borste ken die warmte van vel-teen-vel, so jou hande op jou vel sal nie snaaks voel nie en mag help om meer melk vry te stel uit jou borste. Jy het niks anders nodig as net jou hande nie!
REDES OM MET DIE HAND UIT TE MELK
Jou borsmelk is die perfekte kos vir jou baba. Dit mag nodig wees om met die hand melk uit te druk:
-
as jou baba baie vroeg gebore is en nie kan borsvoed nie.
-
as jou baba te siek is om behoorlik te drink.
-
as jou borste baie vol voel na die geboorte en jy nodig het om die drukking te verlig.
-
as dit nodig is dat jy meer melk moet maak vir jou baba.
-
as jy weg is van jou baba af, en melk moet los vir jou baba.
Moeders kry gewoonlik meer melk wanneer hulle met die hand uitmelk, in plaas daarvan om net ‘n borspomp te gebruik.
MARMET METODE OF HAND-UITMELKING
Hier is ‘n maklike manier om jou melk uit te druk:
-
Eerstens, om net ‘n bietjie melk uit te kry is doodreg. Plaas ‘n wye bak op jou skoot om die melk in op te vang, en verander dan na ‘n kleiner bakkie, en dan ‘n koppie as jy dit eers makliker regkry. Party moeders raak na ‘n rukkie so goed daarmee dat hulle ‘n koppie voor elke bors kan sit en albei gelyktydig uitmelk. Hou ‘n handdoek byderhand vir ingeval jy melk oor die hele plek laat spuit.
-
Met skoon hande, begin deur jou bors so bietjie op-en-wakker te kry en saggies aan die tepel te trek.
-
Plaas jou duim en voorvinger omtrent 1 cm agter jou tepel. Dit mag dalk die plek wees waar jou areola sit (die donkerder vel rondom die tepel). Hou vingers in ‘n C-vorm en moenie dat jou bors die holte tussen jou voorvinger en duim toemaak nie; jy moet nog die oop spasie kan sien.
-
Druk jou bors agtertoe, vas teen die borswand.
-
Rol jou vingers, soos wanneer jy vingerafdrukke sou doen.
-
Herhaal dit ritmies.
-
Jy sal weet jy het jou vingers op die regte plek as jy druppels melk begin sien, dan ‘n straaltjie, en dan die melk wat goed vloei.
-
Roteer rondom die bors sodat jy op al die melkbuise rondom die bors kan werk en nie net aan die een kant nie.
Moenie jou vingers uitmekaar sprei nie, moenie knyp nie, moenie jou vingers laat gly nie en moenie jou tepel trek nie, want dit alles kan pyn en skade veroorsaak.